Consumer Assist Call now for immediate help!
0861 21 22 23
1st step to financial freedom
Debt Counselling
Click here and take the 1st step to financial freedom
Debt counselling
Employers
Click here
Employers
Helping Others
Click here
Helping Others

Media Info

Begroot, begroot, begroot!

26 October 2008

Wanneer begin skuld ’n probleem raak? As jy die een kredietkaart begin afbetaal met die ander een? Of as jy nie meer jou kind se skoolgeld kan bekostig nie? Liezel Joubert het meer uitgevind oor skuld en hoe om dit te bestuur.

’n Mens sien hulle oral: blink motors met hul bestuurders in ontwerpersuitrustings; groot huise met ’n tuin wat duisende liters water opslurp; winkelsentrums waar vroue in die een hand inkopiesakke en die ander die nuutste Blackberry vashou, terwyl hulle ’n krokodilleer-handsak onder die arm vasknyp.

Ons sien ook die ander kant: mense wat twee keer dink voordat hulle uitgaan vir drankies, hul Edgars-paaiement twee maande agterstallig met ’n kredietkaart wat R20 000 in die rooi gloei. Hulle swig en gaan in elk geval uit, kry sommer op pad terug huis toe wegneemetes – nóg R500 sal mos nie ’n verskil maak nie.

Dan is daar die man met die verslete klere voor my by die betaalpunt by Truworths, R200 in sy hand – moontlik sy week se salaris wat hy nét so op sy skuld afbetaal.

Skuld haal ’n mens gouer eerder as later in, veral vir diegene wat nie rekening gehou het met 10 rentekoersverhogings in die laaste twee jaar nie.

Wat is die oorsake?

Mnr. André Snyman, hoofbestuurder van Consumer Assist, Suid-Afrika se grootste skuldberadingsorganisasie, sê die enkele grootste rede vir hoë skuld is swak begroting.

“Min mense het voorsien wat met die ekonomie gebeur het. Krediteure het ons gedruk om huis- en ander lenings uit te neem wat ons twee jaar gelede net-net kon bekostig. Noudat die rentekoerse dramaties gestyg het, is ons in die moeilikheid.”

Hy verduidelik dat ’n huislening vir R700 000 wat in 2006 uitgeneem is se terugbetaling nou sowat R2 400 meer is.

“En mense se salarisse het nie so vinnig aangepas nie.”

Die tweede groot rede hoekom mense hulself in ’n finansiële verknorsing bevind, is dat hulle nie voorsiening gemaak het vir ’n mediese fonds nie, sê Snyman.

“Wanneer daar dan siekte in die familie kom, word baie skuld aangegaan om die mediese koste te dek.”

Laastens speel mense se behoefte om by te bly by die Van der Merwes ook ’n rol. “Min mense koop die motor wat hulle kan bekostig. Hulle kry eerder die een wat hulle status gee of die buurman sal beïndruk.”

Hy sê baie mense leef bo hul ver?moëns, wat aanleiding gee tot die opbou van skuld wat later nie gedelg kan word nie.

Op grond van navorsing het Consumer Assist bepaal dit is mense tussen die ouderdom van 25 en 35 met inkomste tussen R8 000 en R15 000 wat die grootste probleem met slegte skuld het. “Dit is dié mense wat vroeg in hul loopbane kredietkaarte aangebied is en eiendom aangeskaf het. Nou kan hulle die terugbetalings nie meer bybring nie en begin om die een kredietkaart met die ander af te betaal.”

Berading vir jou skuld

Me. Ancil van Heerden, ’n geregis?treerde skuldberader van Johannesburg, het tans 40 kliënte in skuldberading. Sy sê die toename van mense wat sukkel met skuld, is veral in die laaste sowat ses maande opvallend.

“Baie mense het eers hul skuld vir ’n paar maande ‘gerol’ – dus een kredietkaart of lening gebruik om ander af te betaal en rekeninge om die beurt betaal. Hulle kom dan op ’n punt waar hulle dit dan nie meer kan doen nie.”

Dit is ook nie net mense uit die lae-inkomstegroepe wat sukkel met skuld nie. Mnr. Johan Zurich, bestuurder by Consumer Assist, sê kliënte wissel van busbestuurders tot bestuurshoofde van groot ondernemings.

“Die hoë-inkomstegroepe word veral swaar getref omdat baie belê het in ?eiendom wat hulle nie nou kan verkoop nie en omdat hulle luukshede soos vakansiehuise het met stygende paaiemente,” vertel Van Heerden.

Maar ryk of arm, almal is bereid om opofferings te maak om die stres wat krediteure op hulle plaas om hul geld te kry, te verlig.

Snyman sê dit raak só erg dat van hul kliënte al selfs probeer het om selfmoord te pleeg. “Die emosionele impak van skuld op die individu en sy gesin is verreikend. Sommige huwelike word daardeur verwoes en kinders voel die spanning aan.”

Hoe werk dit?

By skuldberaders soos Consumer Assist is die proses maklik. ’n Konsultasie word bespreek by een van die geregistreerde skuldberaders. Kliënte word versoek om hul nuutste bankstate, salarisstrokies, ’n kredietrekord (wat een maal per jaar gratis aangevra kan word) en jou begroting saam te bring. Die berader werk dan saam met die kliënt ’n nuwe begroting uit, asook wat die kliënt kan bekostig om aan sy krediteure te betaal.

Die berader stuur ’n brief aan al die krediteure wat sê dat die kliënt nou onder skuldberading is. Dít beteken die kliënt mag vir 60 dae nie vervolg word oor uitstaande rekeninge nie en daar mag ook nie beslag gelê word op sy bates nie. Die kliënt word nie op die swartlys geplaas nie, maar wel gelys as “onder skuldberading”. Die be?raders beveel ook dan aan dat alle kredietkaarte van die kliënte opgesny word.

Die berader onderhandel voorts met die kliënt se krediteure om tot ’n vergelyk te kom op ’n verminderde bedrag wat die kliënt kan terugbetaal in ooreenstemming met wat die kliënt kan bekostig. Maandeliks is daar een aftrekking uit die kliënt se rekening wat na ’n onafhanklike trustrekening gaan vanwaar die skuld maandeliks betaal word. Die kliënt het dus steeds geld in sy rekening waarmee hy met behulp van die berader moet begroot om sy maandelikse uitgawes te betaal.

“Sodra die kliënt se korttermynskuld gedelg is, kan hy die skuldberading staak as hy bewys het hy kan verantwoordelik met sy geld werk. Die gemiddelde tydperk is gewoonlik drie tot vyf jaar,” sê Snyman. Daar is geen koste om verwyder te word uit die skuldhersiening nie.

Van Heerden sê hulle het baie sukses met mense wat in skuldberading is en raai mense aan om eerder vroeër as later by ’n berader uit te kom.

“Dit maak nie saak of jy R300 of R3 000 skuld nie.”

’n Gesonde begroting

Volgens Snyman is ’n realistiese begroting die begin van ’n gesonde finansiële lewe. “Mense begroot dikwels nie vir herstelwerk, voertuiglisensies of skoolklere nie. En niémand begroot vir vakansies of Kersgeskenke nie. Die meeste mense betaal die deposito (vir ’n vakansie) en gebruik hul 13de tjek vir die vakansie en geskenke.”

Hy sê die ideaal is om 10% van jou salaris te spaar as ’n noodfonds vir onvoorsiene uitgawes.

Die begroting wat deur skuldberaders opgestel word, is ’n omslagtige een. Dit sluit alles in waaraan baie mense nie dink wanneer hulle hul uitgawes neerskryf nie: tuindienste, water en ligte, uiteet, donasies, nuwe klere, flieks, vervoerkoste, versekering, grondbelasting, drank en sigarette en intekeninge waarvan jy dalk al vergeet het.

As dit met jou gebeur

Mnr. Roelf Visser (48) het sowat 20 jaar ’n goeie pos by ’n hospitaal beklee.

Sowat twee en ’n half jaar gelede het hy ’n pakket aanvaar en belê in ’n slaghuis. Sake tussen hom en sy vennoot het skeefgeloop en die slaghuis is verkoop. Visser het ’n groot finansiële verlies gely.

“Ek het toe ’n klein restaurantjie gekoop, maar ek kon elke maand net die uitgawes dek.”

Daarna was Visser raadop. Hy het gesukkel om werk te kry en los werkies en kontrakwerk gedoen om ’n inkomste vir sy gesin te verdien, maar dit was sy vrou se salaris wat die kos op die tafel gesit het. Hy het twee tienerseuns, onderskeidelik 13 en 16.

Vier maande gelede het Visser besef hulle is werklik in die moeilikheid en het hy die hulp van skuldberaders ingeroep. “Ons is nou meer gerus omdat ons weet alles word elke maand betaal en ons het nog geld oor om reg te kom in die maand.”

Die eerste ding wat die skuldberaders hulle aangeraai het om te doen, was om subsidies vir hul kinders se skoolgeld aan te vra, wat onderskeidelik R400 en R700 per maand was.

Visser, wat ’n strawwe roker was, het ook op dié uitgawe bespaar. Die hele gesin moes leer om met minder nuwe klere en luukshede soos wegneemetes oor die weg te kom, maar almal is bereid om saam te werk ter wille van die groter prentjie.

Visser het weer onlangs ’n vaste betrekking in die motorbedryf gekry en sien weer lig aan die einde van die tonnel.

Die les wat hy geleer het, is eenvoudig: “As jy in besigheid ingaan, moet alles op papier gesit word. En as jy skuld het, teel dit vinnig aan! Begroot vir álles, selfs die kleinste dingetjie.”

Kitsfeite:
  • Mense in Gauteng en die Wes-Kaap het die meeste slegte skuld.
  • In 2003 het Suid-Afrikaners gemiddeld 47% van hul inkomste aan skuld bestee teenoor 77,6% in 2008 – sowat R8 van elke R10 word dus aan skuld terugbetaal.
  • Daar word maandeliks op 2 000 huiseienaars se eiendom beslag gelê.
  • Volgens marknavorsing deur Unisa was huishoudelike skuld soos gemeet in die eerste kwartaal van 2008 sowat R1,04 miljard in vergelyking met slegs R290,7 miljoen in 1998.
  • Volgens die Nasionale Kredietreguleerder is 17,14 miljoen Suid-Afrikaners krediet-aktief waarvan slegs 61,65% in goeie stand is (dus nie agterstallig met betalings nie).
  • Verbruikers betaal gemiddeld 27% rente op kredietkaarte en gemiddeld 25% op klererekenings.
Jou gesondheid:

Navorsing wat in die VSA gedoen is, wys dat mense met finansiële probleme die volgende gesondheidsprobleme het teenoor dié wat min of geen skuld het nie:
  • Maagswere of spysverteringsprobleme: 27% teenoor 8%
  • Migraine en hoofpyn: 44% teenoor 15%
  • Angs: 29% teenoor 4%
  • Depressie: 23% teenoor 4%
  • Spier- en rugpyn: 51% teenoor 31%
Bly uit die moeilikheid
  • Knip jou kredietkaart op en kry ’n debietkaart (sonder ’n oortrokke gerief).
  • Moenie meer as 50% van jou salaris aan skuld betaal nie.
  • Moenie probeer spaar deur jou mediese-fonds- of pensioenplan te staak nie.
  • Bespaar op luukshede. Koop goedkoper vleissnitte, eet minder uit en koop minder drank en sigarette.
  • Beperk brandstofverbruik.
  • Sny selfoonkoste.
  • As jy die skuldberader-pad volg, maak seker die berader is geregistreer by die Nasionale Kredietreguleerder.
Jou opsies:
  • Administrasie: Skuld moet minder as R50 000 wees. Dis ’n wetlike proses waarvolgens die paaiemente verminder word en krediteure slegs elke derde maand betaal word.
  • Sekwestrasie: ’n Wetlike proses waarvolgens alle bates verkoop word om die skuld te verminder. Die hof stel iemand aan om jou finansies verder te bestuur. Jy word vir 30 jaar op die swartlys geplaas of totdat die hof jou as gerehabiliteer beskou.
  • Skuldberading: Beraders herstruktureer skuld en krediteure word maandeliks betaal. Jy het steeds beheer oor jou finansies.
FOR FURTHER INFORMATION www.consumerassist.co.za 0861 21 22 23 debt counselling call centre
Andre Snyman - CEO - Consumer Assist
aurelia.espag@consumerassist.co.za / 011 654 6018 (Languages: English, Afrikaans)

Source: Beeld